Dis weer tyd vir die jaarlikse Aandwedloop op Paarlberg, ten doel om geld in te samel vir die Drakenstein Palliatiewe Hospies.
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Historium Trust, Drakenstein Palliatiewe Hospies en Paarl Atletiekklub se pretgelaaide Aandwedloop vind vanjaar op Woensdag Desember 7 plaas. Daar is talle medaljes en kontantpryse op die spel.
Deelnemers en ondersteuners kan staatmaak op piekniek- en kuierplekke by die monument, waar tydelike uitstallings asook ’n avontuurlike speelgrond en buitelugspeletjies aangebied sal word.
Die ikoniese taalmonument kan ook verken en bewonder word. Maak ’n heerlike aand daarvan: bring ’n piekniekmandjie of bestel een vooraf by die ATM Koffiehuis op 082 216 2510 (WhatsApp).
Dié koffiewinkel sal ook verversings en pizza te koop aanbied. Bring ’n kombers of kussings en onthou ook om warm klere en flitsligte saam te bring.
Die 10km-Aandwedloop, wat ingevolge die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Boland Atletiek aangebied word, begin om 6.30nm; dit volg ’n opwindende en uitdagende roete op teer asook grondpaaie.
Die vooraf inskrywingsfooi is R100 (R110 op die dag) en tydelike nommers (vir diegene wat nie lede van ’n atletiekklub is nie) is beskikbaar teen R50.
Die gesellige 5km-Woordloop, wat om 6.45nm begin, is gemik op die hele gesin – selfs stootwaentjies is welkom. Die vooraf inskrywingsfooi is R60 (R70 op die dag) en deelnemers skryf in met ’n prettige Afrikaanse woord in stede van ’n nommer.
In beide items is stappers ook welkom.
Deelnemers kan op drie maniere inskryf: aanlyn vóór 4 Desember om middernag by www.topevents.co.za (info@topevents.co.za), by Drakenstein Palliatiewe Hospies en die Taalmonument (daagliks vanaf 8vm tot 4.30nm) asook op die dag van die wedloop self tussen 4nm en 6.15nm.
Toegang is gratis vir ondersteuners. Vir navrae oor die 10km-Aandwedloop, kontak Lucky Mokwena op mokwena1@icloud.com of 084 826 5895, en vir navrae oor die 5km-Woordloop, kontak Jeffrey Pietersen op 021 872 3441 of bemarking2@taalmuseum.co.za