Die passievolle digter van Paarl, Zebulon Kochk, 24, is hard aan die werk aan sy nuwe digbundel, die inhoud daarvan, ’n weerspieëling van, en diep gewortel in die mens se aangetrokkenheid tot die liefde.
Die nuwe digbundel, Hartsvanger, sal die tweede een uit die jong digter se pen wees ná die vrystelling van sy debuutbundel Zebbiekaans in 2021.
“Die titel spreek van liefde en gaan oor hoe my verse verlief raak op die leser asof dit ’n troubetrekking is. Die titel sluit ook mooi aan by elkeen van my gedigte in die boek,” het hy gesê.
Ná Zebbiekaans was hy gretig vir ’n nuwe literêre uitdaging en het hy inspirasie gevind in die sterk aantrekkingskrag van die liefde in alle opsigte.
“Die inspirasie vir die nuwe digbundel, kom van hoe elke gedig ’n hart vang. Hoe my siel saamwerk met my kop om vars beelde te dig,” het hy gesê.
Aanhangers bekend met Zebbiekaans, sal bewus wees van die tema’s waaroor hy gewoonlik dig, sy unieke samestellings van kreatiewe ‘Zebbie’ woordvorms en sy eie taalvorm, maar Zebulon sê vir die inhoud van dié nuwe bundel het hy diep gaan besin oor dinge wat werklik mense se hartsnare roer.
“Die tema’s handel oor die liefde, plaaslewe, straatlewe en veel meer. Dit is so tematologies tot vandag se lewe dit kan enige hart aangryp,” het hy verder uitgebrei.
Alhoewel die gedigte in sy eerste bundel baie benoemings ontvang het en goed gevaar het in vele poësie kompetisies, sê die plaaslike digter wou hy doelbewus wegbeweeg van die kenmerkende Zebbiekaans-inhoud en iets heeltemal nuut skep ten opsigte van taal komposisies.
’n Doelwit, sê hy wat die skryfproses hierdie keer effens verleng het. “Ek wou nie dieselfde ou stok metafore gebruik nie, so ek moes diep delf om alles mooi uit te lê.”
Hopelik, indien alles glad verloop in die proses, sê Zebulon sal die boek in Oktober vanjaar voltooi wees. Hy sal binnekort bekendmaak waar aanhangers sy boek sal kan koop.
In die nuwe kreatiewe skepping met sy digkuns kan lesers uitsien sê hy na vars, emosiebelaaide gedigte waarop lesers hopelik met die eerste lees daarvan op die skryfwerk verlief sal raak.
Zebulon verkoop ook deesdae gedigte wat hy op versoek van die publiek skryf. Gedigte kan vir spesiale geleenthede, herdenkings, herinneringe of verjaarsdae geskryf word. “Ek het al 34 gedigte tot dusvêr verkoop,” deel hy met trots.
Kontak hom vir meer inligting by zebulonkochk1@gmail.com