’n Tiener van die Strand het ’n groot mylpaal behaal met die publisering en bekendstelling van haar heel eerste boek.
Die 16-jarige Martha Stacy (die skuilnaam wat sy as skrywer gebruik) het die eerste literêre werk getiteld, Before and Beyond, uit haar pen op 19 Oktober, bekend gestel.
Die aanloop tot die skryf van haar eie boek, was amper ’n vanselfsprekende volgende stap reeds omdat sy vroeg in haar kinderjare ’n belangstelling in skryf ontdek het.
“Ek is al van baie jongs af alewig besig om idees neer te skryf. Ek is ’n groot toneelspeler en ek wou die stories wat ek op die skerm of in boeke sien afspeel, self skep. My skrywersbrein was weekliks gevoer en het later oorgeloop met idees,” het sy meer oor hierdie skrywersreis gesê.
’n Groot aanhanger van skrywer L.M Montgomery se Anne of Green Gables-reeks en liefhebber van klassieke skryfwerk, sê dié jong skrywer is die boek ’n samestelling van vele klassieke temas.
Sonder om te veel oor die storie te verklap, vertel sy dat die storie handel oor die lewe van ’n weeskind “en die tema van die verlede wat soms onverklaarbaar spook in die hede”.
“Before and Beyond is ‘n storie wat afspeel in die vroeë Edwardiaanse era in Engeland en handel oor ’n jong meisie wat nie veel weet van haar familie of verlede nie, totdat haar tante ’n pos in die Engelse staat van die Mere Distrik aanvaar. Skielik word Maria se hele wêreld omvergegooi soos die geheime van haar tante se verlede ontbloot word,” het Martha gesê.
Watter lesers dink sy sal dié boek geniet? “Lesers wat ’n liefde het vir geheimsinnige of emosionele stories, sal miskien hierdie verhaal geniet, asook diegene wat deel in my liefde vir klassieke stories,” het die jong skrywer gesê.
As kreatiewe skepper agter die stuur van die verhaal, was die skryfproses by tye uitdagend en het die woorde gevloei mits die inspirasie daar was. Die inhoud het ook baie navorsing vereis.
“Ek sou sê om te sit en skryf was seker die maklikste deel van die proses. Dit hang natuurlik af of die skrywer se vriend en vyand – inspirasie – kom kuier en as hy daar is voel dit vir jou asof jy kan toor, maar as die vabond vertrek, dan beweeg die kommas en punte teen ’n slakkepas,” deel sy meer oor die skryfproses se uitdagings.
Maar deur aanhou en wen is die eindproduk voltooi. “Hierdie storie is met vele gebed en geloof klaar en ek het baie geleer,” het sy gesê.
Sy voeg by hoe onwerklik dit voel om as 16-jarige ’n gepubliseerde skrywer te wees.
“My hart loop oor van dankbaarheid vir die fantastiese mense wat dit vir my moontlik gemaak het om hierdie storie te kon deel op so ’n jong en onervare ouderdom. Ek is bang én opgewonde as ek my boek in mense se hande sien. Selfs al hoor ek die terugvoering, wil my brein my nie toelaat om dit te glo nie. Dit is ’n groot eer.”
Sy verkies vir eers om onder ’n skuilnaam te skryf weens veiligheidsredes asook om te onderskei tussen die verskillende tipe genres wat sy skryf. “Ek voel dit gaan baie druk op my plaas as mense weet wie ek is, en ek skryf ook toneelstukke, so as ek vir hierdie genre skryf weet mense wie die skrywer is.”
Die skuilnaam voeg sy by, maak dit ook moontlik vir haar om sonder openbare blootstelling haar sorgvrye tienerjare te kan geniet.
Die plan is ook om haar boek in luisterboek-formaat te publiseer.
Vir meer inligting of om die boek te bestel, stuur ’n e-pos na rut730303@gmail.com of ’n WhatsApp boodskap na 082 896 1100.