Bolandse dorpies is welbekend vir hul ryk rugby geskiedenis, natuurlike rugbytalent, passievolle rugbyliefhebbers en die oplewering van vele rugbykampioene; dus toe die Wellingtonse egpaar Jenita James en haar eggenoot, Milton, met die vindingryke idee van ‘n gratis rugby kliniek vir kinders vorendag gekom het, was dit ‘n inisiatief wat hul gemeenskap soos ’n handskoen pas.
Die Happy Kids Rugby Clinic is in Maart vanjaar in Wellington gestig met die tweedelige doel; om vir kinders rugby vaardighede te leer en hul persoonlike ontwikkeling te bevorder.
Ná aanleiding van gesprekke met vriende het die egpaar bevind daar bestaan ’n behoefte vir só tipe program. “Die gaping by die skole is raakgesien in die ontwikkeling van kinders omdat die skoolafrigters nie altyd oor die tyd en kapasiteit beskik om individuele aandag aan die kinders te gee nie en nie alle kinders is so bevoorreg om privaat afrigting te kan bekostig nie,” het Jenita gesê.
Sedert die stigting, het die klub-wat aanvanklik met net 15 kinders begin het – nou gegroei tot ’n allemintige 119 kinders. Ouderdomme is tussen 5 en 16 jaar. Die egpaar bied ook ná elke sessie (uit eie onkoste) vir kinders iets te ete.
Sessies vind tans plaas op die sportveld van die Wellington Sekondêre Skool. Kinders (beide seuns en dogters) is woonagtig in verskeie Wellington gebiede.
Rugbyafrigting word ook verryk deur die dienste van rugbykenners en afrigters in te roep. Volgens die egpaar is die verbetering in kinders alreeds sigbaar. “Ons kinders was vroeër in die jaar by Paarl Streek se rugbydag en die terugvoering was dat ons kinders geweldig gegroei het. Van die ouers het ons al gekontak en gesê vandat sy of haar kind by Happy Kids is, kan hulle definitief die verskil op die veld sien,” het gesê.
Daar blyk nie net verbetering op die veld te wees nie, maar ouers getuig van positiewe verandering in huishoudings.
Die 15-jarige Keanan Bruintjies, van Weltevrede, kan getuig van die invloed wat deelname aan die klub op sy lewe het. “Happy Kids het ’n verskil in my lewe gemaak, omdat ek nie altyd vir my ma geluister het nie maar vandat ek op die veld met die klub bymekaarkom het ek meer geleer oor hoe om jou ouers te respekteer en hoe om met hulle te praat, én ons leer goeie maniere en dissipline.”
Angelique Adams,12, vind deelname baie leersaam. “Ons leer by die klub rugby ‘moves’, vaardighede en respek.”
Die hoofdoel van die klub, beklemtoon die egpaar, is om benewens rugbytegnieke, kinders bekend te stel aan ’n waardes soos respek, eerlikheid, integriteit, dissipline, goeie sportmanskap en toewyding.
Die plan is om vir die kinders op Saterdag Desember 7, te bederf met ’n heerlike afsluitings ete en Pretdag.
“Die rede hoekom ons so baie kos wil gee is omdat baie van die kinders se enigste maaltyd kry hulle op ’n Saterdag by ons. So ons wil dit rêrig vir hulle so spesiaal moontlik maak,” het sy gesê.
Die kliniek benodig egter die publiek se bydrae om die Pretdag moontlik te maak. Tesame met springkastele en glybane is die plan om kinders met worsrolletjies, ’n braaibord kos en lekkergoed pakkies te bederf.
Diegene wat kan help met skenkings vir die Pretdag kan Jenita kontak op 076 054 0616 of stuur ’n e-pos na happykidsrugbyclinic@gmail.com
Vir videos en foto’s van die sessies, besoek hul Facebook-blad by Happy Kids Rugby Clinic.