As digter, draaiboekskrywer, BCom-student, gemeenskapswerker, radio-omroeper, aktrise en inhoudskepper is haar lewe alreeds ’n ongelooflike bron van inspirasie vir ander jongmense.
Vir die 19-jarige Paarliet, Logan Adams, is haar indrukwekkende prestasies (sy het reeds twee digbundels bekendgestel) op só ’n jong ouderdom ’n onverwagse toeloop van omstandighede.
“Ek het nie gedink ek sou op so jong ouderdom ’n digbundel uitreik nie,” het die jong skrywer borrelend gesê oor haar eerste boek gesê.
Logan, wie verkieslik haarself as ’n kunstenaar beskryf, is met vele projekte besig, maar die groot droom is om as aktrise, asook agter die skerms, in die vermaaklikheidsbedryf, naam te maak.
Sy het as skrywer, haar eerste digbundel, Die Nood Roep in 2021 vrygestel. Die inhoud vir die bundel het vanaf haar Graad nege jaar bestaan, toe sy as begin dig het omdat sy toe haar pouses in eensaamheid op die skoolgrond deurgebring het. As slagoffers van boelies, het sy uitgeworpe en alleen gevoel.
Die vaslê van haar gedagtes op papier tydens daardie donker tyd in haar lewe, was toe alreeds vir haar ’n lewenslyn. Haar skryfwerk, het as uitlaatsklep gedien.
“Skryf was vir my soos terapie in die genesingsproses, ek het vertroosting gevind in my skryfwerk,” het sy bygevoeg.
As slagoffer van kindertrauma, boelies en ’n worsteling met depressie, is, skryf en veral digkuns, vandag nog vir haar ’n terapeutiese proses.
Sy het na die uitreik van haar eerste bundel spoedig voort gewoeker en haar tweede digbundel, Tussen Stiltes (2022 vrygestel) het kort hierna gevolg. Haar digkuns handel oor alledaagse kwessies, maar geestesgesondheid, is veral vir haar van groot belang.
Die huidige omstandighede in die land is nóg ’n brandpunt wat sy in haar skryfwerk aanspreek. “Ek is passievol oor politiek en glo as meer mense bewus gemaak word oor hoe politiek werk, die politiekebeleide en daar sterk leierskap ingryp sal daar meer oplossings gevind word om die land te verbeter.”
Benewens die digkuns, is sy tans besig om haar film, Maskers te skiet. “Dit is ’n gemeenskapsprojek wat handel oor dinge wat in die gemeenskap aangaan.
“Die titel verwys na die voorkoms van gevalle waar mense maskers dra om te verbloem wat werklik in hulle persoonlike lewens aangaan.”Iets waaroor sy persoonlik rekenskap kan gee.
“Die grootse masker wat ek opgehad het vir jare, was die van depressie. Alhoewel, ek elke dag hartseer was, het niemand dit geweet nie. Ek dink ons elkeen het ons eie stryd maar steek dit weg deur maskers te dra .”
Sy sien egter verandering en dit maak haar hoopvol.
“Selfs mans wat mishandel word praat daaroor uit en dit is ’n teken dat mense begin nou wakker skrik en besef dat hulle nie hoef stil te bly.”
Haar lewensbenadering is een van doelgerigtheid met ’n standvastige vertroue in God. Sy gee ook aan God al die erkenning en eer vir haar talente.
Weens, haar eie uitdagende lewensreis, moedig sy ander aan om nooit tou op te gooi wanneer dinge moeilik raak. Haar eie ingesteldheid is om aan te hou en deur te druk tot die eindpunt.
Haar onlangse suksesse is maar net die begin en sy werk tans aan nog ’n boek. “Dit is nie ’n digbundel nie,” is al wat sy hieroor verklap.
“My grootste motivering is dat ek nog nie uit my omstandighede uitgestyg het nie, dat ek móét aanhou en aangaan.
“Ek wil so baie goed bereik en naam vir myself maak op TV en ook mense help wat sukkel in ons gemeenskappe met verskillende kwessies,” sluit die sprankelende, talentvolle en inspirerende jong kunstenaar met vasberadenheid af.