News

Donasies maak rugbydrome waar

Carmen Jacobs|Published

Clinton Britz, 18, is 'n rugbyspeler van Sir Lowry's Pass Village buite Somerset-Wes en het onlangs aan die Cravenweek 2025 deelgeneem.

Image: Supplied

’n Jong rugbyspeler van die Sir Lowry’s Pass Village-woongebied, buite Somerset-Wes, is vinnig op pad om sy rugby drome te verwesenlik.

Die 18-jarige Clinton Britz, tans ’n leerder aan Hoërskool Diamantveld in Kimberley, het sopas teruggekeer na deelname aan die Cravenweek rugbywedstryde in Middelburg wat vanaf 7 tot 12 Julie plaasgevind het. Clinton was deel van die onder-18 Griekwa rugbyspan.

Dit is die tweede jaar wat hy die span haal.

Clinton se rugbytalent het al vroeg kop uitgesteek en hy is vanaf 9-jarige ouderdom al op die rugbyveld doenig, waar hy vinnig uitgeblink het.

Sy indrukwekkende rugbyspel het vinnig aandag getrek onder afrigters, eers by Sir Lowry’s Pass Laerskool, Metodiste Primêre skool, Strand Hoërskool en nou ook by sy huidige skool in Kimberley.

Wat hierdie speler so storie egter so inspirerend maak is dat hy hierdie uitnemende prestasies behaal ten midde van uitdagende omstandighede, veral finansiële uitdagings.

Maar hy laat nie toe dat hierdie struikelblokke hom onder kry, en gaan hy volstoom voort met harde werk om sy droom om eendag vir die Springbokke uit te draf ’n realiteit te maak.

Nóg ’n uitdaging wat Clinton vanjaar moes oorkom om die Cravenrugbytrui oor sy kop te kon trek, was ’n besering wat hom vir amper twee maande buite aksie gelaat het. Hy moes dubbel so hard werk vertel hy, om weer sy posisie in die span terug te wen.

Sy pa, Clinton Nyeseman, ook ’n voormalige klub rugbyspeler, sê vir hulle as gesin kos dit baie opofferinge om aan Clinton hierdie geleenthede te bied.

Die gesin het vele onkostes, veral reis-en verblyf onkostes om vir Clinton in Kimberley te ondersteun. Faktore wat dit maar moeilik maak om Clinton se rugbydroom te ondersteun, maar met Clinton se vasberadenheid en harde werk, is die gesin oortuig dat alle opofferinge, die moeite werd is.

Sy pa het gesê: “Clinton se talent kom van my af, maar ek dink net ek was nie so vasbeslote soos hy om op professionele vlak rugby te speel nie. Hy is baie hardwerkend en streef daarna om sy beste te gee en hy is iemand wat nie hou van verloor nie.”

Sy pa voeg by, Clinton moet eintlik ’n motiveringspreker wees, want hy het al so baie terugslae oorkom om sy doele te bereik.

“Hy oefen baie hard, luister altyd na sy afrigters en na my raad,” het sy pa gesê.

Sy pa maak van al sy wedstryde video opnames en saam analiseer hulle Clinton se spel en dui sy pa verbeteringe aan.

“Ons as familie is baie trots op hom en wat hy tot dusvêr bereik het. Alhoewel Clinton baie hartseer gevoel het toe hy nie die SA Skolespan haal nie was my raad aan hom om aan te hou en altyd net sy beste te gee. Om op te staan, weer te probeer want daar sal weer ander geleenthede wees, hy moet net nie op sy droom opgee nie.”

Clinton, self sê aan Bolander dat vanjaar se deelname aan die week, ontsettend moeilik was, nie net as gevolg van sy besering nie, maar ook net om homself weer te bewys.

“Ek het baie gelukkig gevoel toe ek weer die span haal, want weens my besering was ek amper uit die Cravenweek en ek moes hard werk tydens my besering, dit was nogal stresvolle oomblikke,” het Clinton oor die hersteltyd na sy enkelbesering gesê.

Sy doelwitte is duidelik; om eendag die Sprinboktrui aan te trek.

“Ek wil ’n Springbok wees, maar vir nou wil ek net Provinsiale spanne haal en Junior Springbokke net om al daardie ondervinding te kry; dit is nou my fokus,” het Clinton uitgebrei.

Die ondersteuning vanuit sy gemeenskap is vir hom ’n riem onder die hart, maar ook ’n bron van bykomende druk, sê hy, want nou wil hy nog harder werk om nie sy gemeenskap in die steek te laat nie.

Hy het gesê: “Ek wil my Godgegewe talent uitleef op die veld en wil my beste gee sodat ek nie my gemeenskap teleurstel nie.”

Met Clinton se onlangse deelname in Cravenweek moes die gesin noodgedwonge voelers uitsteek na hul plaaslike gemeenskap om hand by te sit met van die onkostes.

Die gesin, moes R10 000 insamel vir Clinton se toernooi geld asook al die fondse bymekaar maak om sy rugby benodighede aan te koop. Bykomende benodighede het ingesluit, oefenklere, rugbystewels, ekstra klere, toiletware, beddegoed, en sakgeld.

Mnr Nyeseman en sy vrou, Irene het met ’n donasie brief pogings aangewend om fondse in te samel vir hierdie doel.

Genadiglik het die brief die aandag getrek van nie-regerings organisasie Love In Action, se stigter, Elizabeth Visagie. “So basies moes die Here help dat 15 mense bymekaar kom en almal ’n bydrae maak.

“Ons sê baie dankie aan al die donateurs in die Helderberg en Stellenbosch wat uit hul harte, met spoed bygedra het, sodat Clinton betyds op die bus kon kom om die toets oefenkamp en Cravenweek te kon bywoon, spanwerk laat die droomwerk. Hier kom nog ’n toekomstige Springbok,” het me Visagie gesê.

Mnr Nyeseman het op sy beurt dank uitgespreek teenoor die gemeenskap vir al hul hulp en ondersteuning.

Clinton Britz, hier afgeneem saam met sy span afrigters van die Griekwa onder-18 Cravenweek span. Van links is, Jeffrey Muzaza, voor afrigter; Andre Wait, assistent-afrigter; Clinton Britz; Derik Zeelie, hoofafrigter,en Chris-Mari Lombaard, span fisioterapeut.

Image: Supplied