Liedjieskrywer en sangeres Luna Paige se nuutste enkelsnit, "Die Oral" (The Everywhere), word Vrydag 6 Februarie amptelik vrygestel.
Image: Verskaf
Na die sukses van Luna Paige se somer vrystelling, Rustyd & Herhaal, kondig die liedjieskrywer en sangeres die bekendstelling vanhaar nuutste enkelsnit, Die Oral (The Everywhere), aan.
Die bekendstelling van Die Oral, wat amptelik op Vrydag, Februarie 6 verskyn, gaan gepaard met 'n 3-fase nasionale toer tussen Februarie en April die jaar. Die snit dien as 'n roerende lofsang vir menslike konneksie en is 'n voorloper tot haar hoogsverwagte album, #DieReisigers.
Die toer skop op Donderdag, Februarie 19 af by Die Koelkamers in Paternoster, waarna sy Sondag, Februarie 22 by die geliefde Drostdy Teater in Stellenbosch sal optree.
Die inspirasie vir Die Oral het vorm aangeneem op ’n stoep in Porto, Portugal, tydens haar reise in 2024. Terwyl sy die universele taal van liefkosing vanaf ‘n afstand dopgehou het - families wat op die kaai skater tot tieners wat op hawemure flankeer - is sy getref deur die inherente menslike behoefte aan veiligheid en gebondenheid.
"Om ’n vreemdeling in ’n vreemde land te wees, herinner jou net weer aan hoe eenders ons almal is en hoe afhanklik ons van mekaar is," sê Paige.
"Ons verloor so maklik dit wat ons as mense bind uit die oog. Ek het die frase 'everywhere people loving people everywhere,' neergepen, en met my terugkeer na Suid-Afrika het Die Oral; lewe gekry.
Om hierdie visie na die luggolwe te bring, het Paige weer kragte saamgesnoer met die vervaardiger en musikant André Scheepers. Die duo het die oorspronklike 2025-vertoningsweergawe verfyn deur met vokale melodieë en instrumentele oorwurms te eksperimenteer.
Die snit spog met die kenmerkende kitaarwerk van Henry Steel wat die lied se klank help vorm het. Henry het ook sy hand tot baskitaar gewend, terwyl Paige ’n stemstyl wat effens buite haar tradisionele gemaksone lê, verken het.
Die bekendstelling van Die Oral lui die begin van ’n omvattende nasionale toer wat uit drie dele bestaan:
Deel 1 (Donderdag, Februarie 19 tot Donderdag, Maart 5): Ses vertonings in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat en Gauteng.
Deel 2 (Donderdag, Maart 12 tot Saterdag, Maart 14): Vertonings in Mpumalanga en Limpopo.
Deel 3 (Vrydag, Maart 20 tot Sondag, Maart 22): Vertonings in KwaZulu-Natal.
Paige se eerste toer van die jaar kom tot 'n einde by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees(KKNK) in Oudtshoorn waar sy op April 1,2 en 3 by Die Windpomp sal optree.
Hierdie jaar vier die KKNK sy 30ste bestaansjaar - 'n mylpaal wat Paige beskryf as "'n groot voorreg om in mee te deel". Kort voor die fees sal sy haar derde enkelsnit, Die Lyf, bekendstel. Die volledige albumbekendstelling vind in September die jaar plaas.
•Bolander gee twee stelle kaartjies (vier kaartjies) weg vir Luna Paige se vertoning op Sondag, Februarie 22 by die Drostdy Teater in Stellenbosch. Om te wen, volg Bolander op TikTok @ccmonlineza, deel die Luna Paige-plasing en los jou naam in die kommentaar.
Related Topics: