Indien jy nog op soek is na die ideale geskenk vir die kleingoed hierdie Kersfees is ’n oulike kinderboek wat die verbeelding van jong lesers aangryp, altyd ’n wenner.
Zuléka Smit, die Paarlse skrywer van die kinderboek-reeks waarin die hoofkarakter, Ben alle soorte uitdagings moet trotseer, is opgewonde oor die bekendstelling van haar nuwe boekie, Lea gaan skool toe, vroeër hierdie maand.
Die boekies oor Ben, deel sy mee het ontstaan nadat sy tydens die Koranavirus-tydperk in gebed vir God raad gevra het vir idees en maniere oor hoe sy ouers se angstigheid oor kinders wat die groot skool aandurf, kon verminder.
“Ek het lank gebid en gewonder hoe kan ek help. Met God se genade het Hy hierdie boekies op my hart gesit. Vandag is ek dankbaar dat Hy my vertrou met hierdie boekies om ouers kalm te maak oor kinders wat skool gaan,” het Zuléka, tans ’n onderwyser by Klein Boishaai in Paarl, gesê.
Van die onderliggende (baie relevante) lewenslessies in die Ben-boekies deel sy mee sluit in hoe om boelies in die skool te hanteer, hoe om vrees en angstigheid voor moeilike take te oorkom, asook om aan kinders die gerusstelling te gee van Jesus se teenwoordigheid in alle uitdagings— ongeag of dit boelies of vreesaanjaende skoolvereistes is.
Die nuwe boekie oor die splinternuwe karakter Lea, volg kort op die hakke van die Ben-boekies en is spesifiek op dogters gemik. “Omdat Ben ’n seuntjie is het ons dit goed gedink om ’n meisie karakter te skep waarmee dogters hulself kan vereenselwig,” het die skrywer oor die inspirasie agter die skep van Lea se karakter gesê.
Dogters sal nou ook in die avonture van Lea kan deel en uit haar ervaringe leer, want met die nuwe boekie, wyk die plaaslike skrywer nie af van haar wenresep om advies aan jong lesers in die storielyn deur te gee nie.
Zuléka sê die nuwe boekie sal jong lesers toerus en verryk met kennis en strategieë in die hantering van kwessies soos eensaamheid, vaardighede gee om vriende te maak asook hoe om ’n vrees vir die onbekendheid van ’n nuwe skoolomgewing te hanteer. “Daar is heerlike wenke wat om te doen as jy nie ’n maatjie het nie of jy beleef teleurstelling, of wat maak jy as jou hartjie elke oggend bang is,” het sy gesê.
Gemik op kinders tussen die ouderdom van 5 en 9 jaar, bly die kernboodskap in haar boekies een sterk gegrond op Christelike sienings en beginsels. “Om altyd die lig in die donker te wees en te alle tye op te kyk na God,” som sy van die hoofboodskappe in die boekies op.
Dié ma van twee tieners, Heini, 15, en Karli, 16, vertel dat sy elke oomblik van die skryfproses in die kinderboekgenre geniet. Dit is hier waar sy haar stories kan laat lewe kry en aan haar kreatiewe gedagtes vrye teuels gee.
’n Bonus vir haar en waaruit sy genot put in die skryf van die kinderboeke, is dat sy juis as instrument van God se boodskap kan optree. “Dis die lekkerste lekker om hierdie boekies te skryf, en te weet God werk deur my,” het sy gesê.
In die optower van kinderverhale, is die reaksie van die klein lesers vir haar een van die mees vervullendste en lekkerste dinge om te aanskou. “Om kinders se gesiggies te sien as hulle dit lees. Die opgewondenheid is ‘priceless’.” Sy voeg by met die skryf van haar boekies mik sy ook daarna om ‘n liefde vir lees by kinders te kweek en ook storietye te skep wat ‘lekker’ is.
Zuléka se nuwe boekie, Lea gaan skool toe, is ook in Engels vertaal as, Lea goes to school, en beide is nou aanlyn te koop beskikbaar.