Ligte, kamera, aksie! Die opwinding tydens die onlangse verfilming van ’n toneelstuk in Sir Lowry’s Pass Village, het ’n groot skare getrek wat wou hierdie aksiebelaaide oomblikke van naby aanskou.
Bolander het in hierdie opwinding gaan deel en saam met Lea Coetzee, plaaslike dramaturg, die opnames met haar akteurs en nuuskierige omstanders ervaar.
Vir jong filmmaker, Amadea Yacumakis, woonagtig in Somerset-Wes, wat onlangs haar studies in Grafiese Ontwerp voltooi het, is die skiet van die toneelstuk vêr verwyderd van die trouvideos en soortgelyke geleenthede wat sy gewoonlik dek.
Op die informele buite ‘filmstel’ blyk daar op die oogaf talle eksterne uitdagings te wees, maar sê Amadea is dit vir haar nogtans ’n verrykende ervaring en terselfetyd ’n praktiese leerskool.
Net gewapen met haar kamera, sonder luukse verfilmingstoerusting, klankapparate, beligting en alle ander benodighede wat gewoonlik op ’n fliekstel sal voorkom, is sy toegewyd om die beste te bemag met die min bronne tot haar beskikking.
“Dit is die eerste tipe film wat ek doen en hulle is eintlik baie talentvol, so dit maak dinge makliker,” het sy gesê.
Sy is beïndruk met hoe maklik die akteurs instruksies uitvoer. Sy verskaf net leiding in klein aspekte soos die projekteer van hul spraak, kamerawerk, lyftaal, ensovoorts.
“Dit is vir my net só spesiaal om iets te doen wat ek nie gereeld doen nie en met ander mense te ‘connect’ wat ek gewoonlik nie mee sal nie, dis regtig baie lekker, want ek dink ons raak so gemaklik om in ons eie ‘bubbles’ te leef; so om buite my gemaksone iets te doen is baie spesiaal en dit leer jou baie van die lewe.”
Sy is deur haar ma, Madelein Yacumakis, ’n afgetrede onderwyser met ’n liefde vir toneelspel, voorgestel vir die taak nadat Madelein vir Lea ontmoet het tydens gemeenskapsuitreik aksies met haar vriendin Elizabeth Visagie.
“Lea het aan my genoem dat sy graag hierdie toneelstukke wil opneem en ek het my dogter voorgestel om dit te doen en vir haar dan op ’n geheuestokkie te sit sodat sy dit solank by skole kan vertoon. Ons glo met ons hele harte dat die Here iemand oor haar pad gaan stuur wat iets groter gaan kan doen as hierdie nou; hierdie is net die eerste stappie,” het Madelein hoopvol oor Lea se aspirasies gesê.
Op haar beurt, help Elizabeth die dramagroep met van hul behoeftes.“Vir die toneelkinders was toiletware die eerste projek, toe klere vir seuns en dogters; ek werk nou aan skoolbenodighede en skryfbehoeftes, dan nader aan die winter moet die verskaf van beddegoed aandag kry,” brei sy uit.
Lea sien uit om die eindproduk by skole te wys. “Ek wil meer skoolkinders by die drama betrek, want dan kan hulle meer daaroor leer, só meer selfvertroue kry en leer om vir hulself op te staan.”
Die groep kort finansiele hulp met die redigeringsproses, want die sagteware vir hierdie doel beloop vir Amadea ongeveer R1 000 maandeliks, ’n uitgawe wat vir haar as vryskutwerker onbekostigbaar is.
Persone wat tot hierdie uitgawe ’n bydrae kan maak of met van die dramagroepie se ander behoeftes is welkom om verkieslik ’n WhatsApp-boodskap aan Elizabeth te stuur by 079 275 7055.