Die dramagroep van Hoërskool Parel Vallei het met deelname aan vanjaar se ATKV-Tienertoneel Wes-Kaapse streeksfees, met vele van die gesogte louere weggestap. FOTO: NARDUS ENGELBRECHT
Hoërskool Parel Vallei in Somerset-wes, het tydens die eerste ATKV-Tienertoneel se Wes-Kaapse streeksfees op Saterdag 20 Augustus by die Kunstekaap-teater, vele toekennings vir hul produksies en toneelspel ingepalm.
Die skool se produksie, “5678” is aangekondig as beste produksie van die ATKV-Tienertoneel se Wes-Kaapse streeksfees en hul PV se leerderproduksie, (kant)LYNSTAAN het derde plek behaal.
Benewens die louere vir hul produksies, het die skool se toneelspel ook gesogte toekennings behaal. Leerling, Talia Roux het die toekenning vir Beste Aktrise losgeslaan. Sy het hierdie prestasie behaal vir haar vertolking van die karakter, Magdaleen in die produksie, (kant)LYSTAAN.
Optredes deur leerlinge Doline Havinga, as Stefanie in (kant)LYNSTAAN en Zané Habig in die rol van Gerzé Prinsloo in “5678”, het gesorg vir altesaam drie benoemings as Beste Aktrise by die streeksfees.
Paul Strydom, in sy rolvertolking as Choreographer in “5678” en Nina Strydom as die karakter, Mev Wiwwe du Toit in “5678”, is op hulle beurt vir beste akteur en aktrise in ’n ondersteunende rol genomineer.
Verdere toekennings is losgeslaan deur Kultuurhoof van Parel Vallei, Darryl Spijkers, wie erkenning ontvang as die beste regisseur (“5678”) tydens hierdie streeksfees. Die skool se toneelgeselskap het ook verder die toekennings vir die beste hantering van tegniese aspekte, beste ensemble en beste produksie gewen.
Die span van “5678” is reeds na hulle eerste feesoptrede beloon met altesaam 21 goue toekennings vir verskeie prestasies, insluitend regie, Darryl Spijkers; kostuums, Gabriella Lopes; choreografie Leanne Angels; ensemble-werk en produksie.
Daar was ook ses silwer en agt brons toekennings, waaronder die produksie, (kant)LYNSTAAN een brons en vier silwer toekennings ontvang het. Anya Marx in graad 12 is ook aangekondig as dramaturg van (kant)LYNSTAAN.
Vanjaar se uitnemende prestasies volg kort op verlede jaar se wen, toe die skool die nasionale wenner van die 2021 ATKV-Tienertoneelkompetisie was. Verder het die skool nog twee ander produksies, DIE SUSTERSKAP en mAaNmAaTs, wat hierdie week aan die tweede ATKV-Tienertoneel Wes-Kaapse streeksfees by die Baxter-teater in Kaapstad deelneem.