Laerskool Overberg in Caledon en Laerskool Beaumont in Somerset-Wes is vir die derde keer deur Sam Wong, skoolhoof van Canberra Primary School in Singapoer, uitgenooi om aan ’n interaktiewe musiekblyspel, We Create the World, in Singapoer deel te neem.
Die ander skole wat ook deel van hierdie projek is, is Canberra Primary School van Singapoer, Pay Fong 3 Primary School van Maleisië, en Wuxi Donglin Primary School van China.
Die toergroep bestaan uit 29 leerders van Laerskool Overberg en 35 leerders van Laerskool Beaumont. Hulle vertrek op Vrydag 28 Julie na Singapoer met Singapore Airlines, en keer weer terug op Saterdag 6 Augustus.
Die interaktiewe musiekblyspel vind plaas in die Star teater in Singapoer. Mnr Wong sê dat dit sy droom as onderwyser was om vir leerders te leer dat dit húlle verantwoordelikheid is om hulle toekoms te skep en te ontwikkel.
Die tema van die musiekblyspel, We Create the World, is dan juis om daardie boodskap aan die leerders oor te dra. Die musiekblyspel handel oor ’n persoon wat al die kleur uit die wêreld steel.
Sekere persone kry opdrag om sekere edelgesteentes met spesifieke kleure in die wêreld te gaan soek sodat die kleure van die wêreld herstel kan word.
Elke skool moet ook ’n spesifieke volksverhaal uitbeeld. Klein Ovies voer die verhaal van Racheltjie de Beer en Laerskool Beaumont voer die Guardian of the Pool op. Uiteindelik word die edelgesteentes gekry by die persone wat die verskillende volksverhale opvoer, en sodoende help die wêreld mekaar om die kleure van die wêreld te herstel!
Volgens Mnr Wong het die Suid-Afrikaanse hoë kommissaris in Singapoer, ook bevestig dat hy die spogaand in die Star teater gaan bywoon. Die leerders gaan ook aan die nuutste tegnologie(Orientation to future learning) in Canberra Primary School blootgestel word, asook sokker, “floor ball”(hokkie) en basketbal teen mekaar speel.
Een van die etes vir al die leerders gaan ’n braai by die skool wees.
Die Suid-Afrikaanse groep het opdrag gekry om ’n leidende rol hierin te speel. Daar gaan spesifiek gefokus word om van mekaar se kulture te leer.
Die toergroep sal ook besienswaardighede soos Universal Studios, Water Cove Park, Trick Eye Museum, Wings of Time(’n water-, laser- en vuurwerkvertoning), Singapore Flyer, Gardens by the Bay en die Singapoer dieretuin besoek.
Beide skole neem ook lede van hulle bestuurspanne saam, aangesien daar ook na beste bestuurspraktyke(onderrigbestuur) by Canberra Primary School gekyk gaan word. Canberra Primary School is een van ’n paar laerskole in Singapoer wat as ’n Future School in Singapoer gekies is en word dienooreenkomstig befonds om hierdie doel uit te leef.