Ter viering van Internasionale Geletterdheidsdag op Sondag September 8, bied biblioteke in die Helderberg verskeie programme aan vir jonk en oud; een hiervan was die skrywers-geleentheid met Strand skrywer van kinderboeke, Judith Vollmer, by die Macassar-biblioteek op Vrydag 6 September.
Bygewoon deur leerlinge van die False Bay Primêre Skool, ander gaste, biblioteekpersoneel, en lede van die publiek, het Judith nie net ’n insiggewende sessie oor die skryfkuns en die inhoud van haar eie boeke gelewer nie, maar het ook jong gaste gemotiveer.
Die verrigtinge het op ’n opgewonde noot begin met ’n vertoning deur die skool se trompoppies. Dit was die skrywer se eerste besoek aan Macassar-biblioteek.
Judith, wat alreeds 16 boeke die lig laat sien het, het haar nuutste kinderboek, Kyla se Winter Kersfees, uitgestal en oor die boek se inhoud uitgebrei. Sy het ook oor van haar vorige boeke met leerlinge gesels.
“My gawe wat ek het kom van God af, so die liefde wat ek vir God het sal jy in my boeke sien,” het sy uitgebrei oor die Christelike aspek in haar boeke teenwoordig.
Sy het jongelinge aangemoedig om boeke te lees en sodoende ’n liefde vir lees te kweek. “Boeke maak vir jou ’n nuwe wêreld oop en dit kan ander bemoedig. Begin by kinderboeke – kry vir jou boeke met iets in wat jou laat lag,” het sy gesê.
Verder het sy hulle aangepor om self te begin skryf. “Ek glo dat elkeen ’n storie het om te vertel – iewers in jou lewe het daar iets met jou gebeur wat jy in ’n boek kan sit om ander weer daardeur te bemoedig.”
Na die praatjie was die vloer oop vir vrae uit die gehoor. Keith Woodward, ’n pensionaris van Macassar, het aan Judith gevra of skrywer wees winsgewend is?
“Vir my is dit nie ’n inkomste wat ek op staat maak nie, maar eerder iets wat ek geniet om te doen, so of dit geld maak of nie, maak nie eintlik vir my so baie saak nie,” het Judith geantwoord.
Nóg ’n vraag uit die gehoor is deur Jeffrey Hendricks, ook van Macassar. “Dit is goed om lees onder kinders te bevorder, maar hoe gaan ons probeer om die ouers aan die lees te kry,”? het hy gevra.
Judith het kinders aangeraai om hul ouers te betrek by interessante boeke wat hulle lees deur die storie met hulle te deel. “Vertel vir jou ma van ’n boek wat jy gelees het, begin by ’n dun boekie om net jou ma se belangstelling te prikkel,” het sy raad gegee.
Adri Arnolds, 12, van False Bay Primêre Skool, het gesê: “Ek wil ook graag ’n boek skryf, maar my boek moet gaan oor my eie lewe.” Sy het gesê die praatjie was goed.
Haar klasmaat, Sharee Olivier, 12, het gesê: “Vanoggend was baie interessant en opwindend – die manier hoe mev. Vollmer saam met ons gepraat het, het my ook geïnspireer om my eie boek te skryf.”
Sharee se gunstelingboek is een van Judith se boeke, Sy was maar net ‘n kind.
Vernon Koen, ’n beampte van die Metro-Oos Onderwys distrik se skoolbiblioteek ondersteuningsdienste, het gesê: “Elke jaar word Nasionale Boekweek in September gevier en dit is vir ons ’n ideale geleentheid vir lees bevordering, alhoewel dit ’n daaglikse ding is, maak ons ’n groot bohaai oor hierdie aangeleentheid (boekweek) en sien dit as ’n geleentheid vir ons skole om saam te span om die belangrikheid van lees aan te spreek en lees aan te moedig vanaf grondslagfase tot in matriek.”
“Lees-kulture is baie swak, dit is nie ’n geheim nie, maar ons probeer ons bes om ook teen middel van skole biblioteek ondersteuning en ontwikkeling in ons distrik te kyk waar kan ons lees op verskillende maniere aanmoedig.”
Vir Judith bly hierdie tipe aanbiedinge en interaksie met die publiek belangrik. “Ek wil weer die liefde vir lees in die gemeenskap terugbring want ek glo nog steeds dit open wêrelde.”
Besoek die sosiale media bladsye van jou naaste biblioteek vir meer inligting oor opkomende programme hierdie week.