Vrouemaand is onlangs by die Taalmonument op ’n inspirerende noot afgesluit deur erkenning te gee aan plaaslike vroue vir hul onbaatsugtige en impakvolle bydrae tot gemeenskaplike bevordering. Hierbo, poseer die ontvangers van die spesiale toekennings tydens die seremonie.
Ter herdenking van Vrouemaand is 16 vroue deur die Afrikaanse Taalmuseum-en monument, Historium trust en die Kaapse Wynlande-distriksmunisipaliteit tydens die Fenomenale Vroue van die Kaapse Wynlande-toekenningseremonie vereer vir hul inspirerende werk.
Tydens die seremonie, wat aan die einde Augustus plaasgevind het, is agt wenners en agt naaswenners in verskilllende kategorieë aangewys en met pryse beloon.
Verdere besonderhede luidens ’n persverklaring deur die Taalmuseum uitegereik, onthul dat verrigtinge gelei deur Pietie Williams, uitvoerende direkteur van die KWDM se gemeenskapsontwikkeling en beplanningsdienste. Verder is die seremonie bygewoon deur wenners, naaswenners, die mense wat hulle genomineer het, lede van die vennootorganisasies asook twee gassprekers.
Michael Jonas, ATM-direkteur het die seremonie geopen met ’n voorlesing van Sproeireën, digter DJ Opperman se bekendste ode aan vroue. “Volgens hom is elke vrou so uniek soos haar geur. Hy bewonder vroue. Hy voel positief oor vroue, want hy sê hulle kan troos en beskik oor verskeie deugde,” het mnr. Jonas gesê.
“Die vieringe van Vrouemaand 2022 bied ons die geleentheid om bande met die gemeenskap te versterk en hulde te bring aan vroue wat hul lewens daagliks wy aan die bevordering van maatskaplike samehorigheid, die beskerming van vroueregte, die verbetering van vroue se omstandighede en die uitwissing van die sosio-ekonomiese en maatskaplike agterstande.”
Lede van die publiek is genooi om nominasies in te dien vir ’n vrou wat hulle as fenomenaal beskou. Die inskryfreëls is eenvoudig gehou om inklusiwiteit te verseker, en indiening is vergemaklik deur ’n selfoonvriendelike aanlynvorm.
Nagenoeg 100 inskrywings is van alle uithoeke van die distrik ontvang, en Elize Boer, Andeline Coetzee, Juanita Eversen, Felicity Fransman, Nicolette Labuschange, Tembi Mehlo, Elmarie Rabe en Jocelyn van der Ross is eindelik as wenners aangewys.
“Deur hierdie geleentheid en die nominasieproses het die KWDM en ons vennote ’n geleentheid gesoek om die onbesonge heldinne te vier, die vroue wat hul tyd, liefde en omgee gee sodat ander kan floreer, dikwels terwyl hulle hul eie behoeftes verwaarloos,” het die KWDM se uitvoerende burgemeester, raadslid Elna von Schlicht, verklaar. “Ek is trots om tussen die fenomenale vroue in hierdie kamer, distrik en land te wees.”
Chrystinn Jacobs, mede-eienaar van Jacobs Jam in Ceres, en Jaydee Joubert, ’n opkomende entrepreneur van die Paarl, het hul inspirerende stories van sukses met die gaste gedeel. Die wenners en naaswenners het geskenke van die KWDM, ATM, Historium Trust, Jacobs Jam en Tupperware Wes-Kaap ontvang.