Josua Kruger het in die onlangse Suid-Afrikaanse Junior Geslote Skaakkampioenskap in Gauteng die O/8 silwermedalje gewen.
Dit het hom ‘n plek in die SA-span besorg waar hy sy land van 15-23 Junie 2024 in Gauteng by die Afrika Skaakkampioenskappe verteenwoordig.
Hy kon al voor sy derde verjaardag ‘n skaakbord pak en het kort daarna begin speel.
Josua se drie ouer broers, wat almal kompeterende skaak speel, is ‘n groot bron van inspirasie, skaakidees en kompetisie. Sy trotse pa is tans sy mentor en afrigter.
Verlede jaar was Josua die Wes-Kaap se O/7 kampioen. Tans speel hy bord nr. 1 vir Beaumont Laerskool in Somerset-Wes se O/9 skaakspan.
Hy was op sesjarige ouderdom reeds deel van Beaumont se O/9 skaakspan, saam met sy ouer broer, Mígael. Hul span het vierde gekom het in die Wes-Kaap se top-skole spankompetisie.
Josua is ‘n baie kreatiewe probleemoplosser. Taai skaaksituasies daag hom uit om te verbeter. Hy is aanpaspaar, leer graag en vinnig en gee nooit op nie.
Wanneer hy hokkie of krieket speel of aan atletiek en landlope deelneem, is dit daardie selfde verbetenheid wat hom aanspoor en tot groter hoogtes dryf.