Johan van Zyl, Gordonsbaai
Ek bemerk nie al te dikwels Afrikaanse briewe in Bolander se briewekolom nie, daarom kan ek nie op grond van sulke ongetoetste getuienis aanvaar daar is nie Afrikaanssprekende persone onder die leserstal nie! Ek laat dus hierdie brief oor aan die genade van ons bekwame Redaktrise en haar span en hoop sy sal saamstem iemand sal dit tog lees.
Ek wil met hierdie brief vertel van iets wat my nogal driftig stem, en ek is nie seker na wie toe ek die vinger moet wys of by wie se adres ek daaroor navraag moet doen nie. Die kwelling het 'n paar weke gelede reeds ontstaan toe ek Die Burger, ons geliefde Wes-Kaapse Afrikaanse dagblad, weer 'n keer moes oopslaan in die verwagting dat daar 'n berig sou wees oor die geskeduleerde landing op die planeet Mars deur NASA se verkenningstuig Perseverance.
Die tuig sou op 18 laaslede om 22:49 (Suid-Afrikaanse tyd), ná 'n vaart van nagenoeg 480 miljoen km deur die ruimte vanaf die aarde, die yl atmosfeer van die Rooi Planeet binnedring in die eerste stadium van die landingsfase. Daardie klompie minute wat die landingsfase sou duur is beskryf deur die wetenskaplikes en tegnici van die sendingbeheerkamer van Jet Propulsion Laboratories in Suid-Californië as "sewe minute van verskrikking". Dit sou die spannendste deel van die hele sending vir die toegewyde span 'boffins' wees, want letterlik duisende dinge kon verkeerdgaan. Tog het alles perfek afgeloop en presies om 22:56 het Perseverance se ses aluminiumwiele op die ruwe bruinrooi vloer van Jezero-krater gestaan. Almal in die JPL-beheerkamer het die suksesvolle landing toegejuig en hande geklap – daar was groot verligting oor die proses en die prestasie!
Tydens die reisfase van hierdie grootse wetenskaplike gebeurtenis het ek verwag RSG-nuus sou in Afrikaans daaroor berig - jou letterlik op die punt van jou stoel hou - en die luisteraars in Afrikaans voorberei op die landingsdrama wat sou volg. Maar selfs in die dae ná die 18de het geen woord uit daardie nuusateljee gekom nie. Ek het ook verniet sit en kyk na SABC-nuus op kanaal 192, want die nuuslesers het geswyg soos die graf. Eers op die 19de die aand het hulle iets daarvan gewys.
Maar ons Afrikaanse dagblad – o wee! Tot en met vandag, Woensdag 3 Maart, het my koerant g'n sprak gesprook nie. Wat sou die rede wees? G'n joernalis wat tegniese Afrikaans of wetenskaplike kopie kan produseer nie? 'n Hoofkantoorbeleid dat enige ophemeling van Amerikaners polities sensitief is? 'n Oortuiging dat lesers net in Covid-19 en manewales van politici belangstel?
Dis maar simpel hond-se-gedagtes wat ek uitdink omdat ek geen ander antwoord kry nie. Die drama wat nou op Mars afspeel, gaan voort. Daar gaan so baie waarnemings en ontdekkings wees om in Afrikaans te berig weens Perseverance se geskeduleerde taakopdragte. Dit is tog groot nuus! Wie wil net daagliks lees hoeveel mense positief getoets is vir Covid-19 en hoeveel reeds met wat ingeënt is.
Laat Bolander, ons gawe gemeenskapskoerant, nou en dan iets berig terwyl die ander swyg. Hierdie is my geringe bydrae.